
Woordsaad Gedagte
Kliek Op Die Tema.
Mag hierdie dag vir jou groot vrede en vreugde bring waar jy ook al gaan.
Ons het Saterdag gesels oor die twee verse in:
Galasiërs 5 [16] “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie.”
Dit is interessant dat Galasiërs 5 [1] vir ons sê:
“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.”
Vers [1] sê ons is vry en vers [16] verduidelik vir jou en my as Bruid van die Jesus Christus, hoe ons nou daardie vryheid elke oomblik kan uitleef sonder om in sonde te val.
Die “hoe om nie in sonde te verval nie …” se antwoord lê in “Wandel deur die Gees”.
Maar wat van die vlees ?
Dit is interessant dat wanneer Paulus na die vlees verwys, hy nie altyd na die fisiese liggaam verwys nie.
Dit verwys eerder na die mens en sy/haar gevalle natuur.
Dit is daardie selfgesentreerde “I me and myself” natuur waarna ons al na verwys het.
Dit neig voortdurend om onafhanklik van God te leef wat eindig in sonde.
Teenoor dit staan die Gees.
Paulus slaan die spyker op die kop in:
Galasiërs 5 [17] “… want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.”
Die Heilige Gees [Pneuma] woon in die Bruid.
Om “deur die Gees” te wandel, beteken om jou en my lewe onder die Heilige Gees se invloed en krag te plaas.
Paulus deel hier ‘n uiters belangrike geestelike en sielkundige beginsel.
Jy en ek oorwin nie die vlees deur op die vlees te konsentreer nie.
Onthou jy Saterdag se Galasiërs 5 [1] wat vir ons sê:
“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.”
Die juk van die wet kan nie sonde beveg nie.
Dit klink so. “Ek mag nie dit doen nie, ek mag nie dat doen nie.”
Waarop word hier gefokus ?
Die “ek” en “sonde”.
Die antwoord lê egter in Paulus se woorde.
Fokus op die Heilige Gees.
Volg die Heilige Gees want wanneer jy en ek dit doen sterf al die ou begeertes van die vlees.
Wat gebeur wanneer jy ‘n plantjie geen water gee nie ?
Met die begeertes van die vlees gebeur presies dieselfde.
Dit sterf.
Jy sien, jy en ek as volwasse Bruid van Jesus Christus veg nie meer teen die duisternis nie. Nee ! Ons skakel die Lig aan, want die Lig in ons verdryf die duisternis.
Die Wet sê: “Moenie sondig nie, anders is jy in die moeilikheid.”
Die Gees sê: “Wandel saam met My, en die sonde sal sy aantrekkingskrag verloor.”
My gebed is vandag: “Vader, ek kan nie vandag op my eie reg optree nie maar lei U my in en deur die krag van die U Heilige Gees .”
Vrede Vir Jou.
![]()
