
Woordsaad Gedagte
Wat ‘n voorreg om vandag saam met jou te kuier rondom die Woord.
Die krag uitdaging is gisteraand uitgesorteer en saam met dit die besef hoe afhanklik ons daarvan is.
Gister se deel uit Sagaria 4[6] gee vir ons vandag ook weer ‘n inloer geleentheid in Efesiërs 1 [6] en Kolossense 1[27]. [Lees dit gerus weer]
Ek het so ‘n bietjie gaan blaai in die kommentare van Matthew Henry, Charles Spurgeon en die Expositor’s Bible Commentary oor hierdie twee verse.
Ek deel dit graag met jou, want dit bevestig weereens dit wat ons die afgelope weke met mekaar gedeel het.
Efesiërs 1:6 gee vir ons, ons Posisionele Identiteit.
Dit beteken waar jy en ek staan.
Jy en ek is begenadig “in die Geliefde”.
Hierdie woord “begenadig” in die Grieks beteken nie net dat God ons Vader ons jammer gekry het nie.
Dit beteken dat Hy jou en my omhul, deurdrenk en volkome aanvaarbaar gemaak het.
Dit is soos ‘n spons wat in ‘n emmer skoon water gedoop word.
Wanneer God ons Vader na die spons kyk [jou en my], sien Hy net die water wat dit deurdrenk.
Vir baie lank het ek ‘n verkeerde prentjie gehad oor “in die Geliefde”, maar vandag dank ek die Heilige Gees wat dit vir my, maar ook vir jou oopbreek vandag.
Ongeag wat mense of die wêreld van jou as weergebore Kind van God sê of dink …
God kyk nie na jou deur die bril van jou mislukkings, jou verlede of die eerste Adam se val nie.
Hy kyk na jou in Jesus Christus (die Geliefde).
Al die liefde, aanvaarding en welbehae wat die Vader teenoor Jesus het, het Hy op hierdie oomblik teenoor jou !
Neem dit, verklaar dit elke dag en leef dit !
Vrede Vir Jou.
![]()
