
Woordsaad Gedagte.
Goeiemôre !
Ek glo dat jy ‘n nagrus geniet het van vrede na gees, siel en liggaam.
Dawid kom met ‘n raakvat gedagte in:
Psalms 24 [1] ‘n Psalm van Dawid. Die aarde behoort aan die HERE en die volheid daarvan, die wêreld en die wat daarin woon;
God is die Eienaar.
Jy en ek is die rentmeesters.
Alles wat jy en ek het, is aan ons toevertrou.
Alles wat jy en ek doen, behoort tot Sy eer te wees.
Dit sluit aan by ons “Shamar” verantwoordelikheid, wanneer ons met geestelike “filters” waak oor ons herstelde families.
Paulus kyk ons in die oë vandag en sê met groot erns in:
Efesiërs 4 [27] “… en gee aan die duiwel geen plek “topos” nie.”
In Afrikaans beteken geen plek, geen plek.
Ek wil dit beaam met: “Nie ‘n enkele skrefie plek nie.”
Ons het voorbeelde genoem soos onvergewensgesindheid, bitterheid, leuens of onbeheerste woede en so hou die lysie aan.
Vandag is een van die subtiele skrefies die digitale infiltrering in ons huise en families.
Vanuit ‘n Bybelse perspektief is die stryd uiteindelik nie teen toestelle nie, maar teen alles wat ons harte wegtrek van God.
Ons self maak dit maklik vir die duiwel, wanneer ons digitale skerms belangriker word as ons gesels met mekaar.
Geheime aanlynlewes, emosionele verhoudings, pornografie en onrein inhoud is maar ‘n paar skrefies wat die duiwel toegang gee.
Sosiale media laat ons voortdurend dinge vergelyk wat kompetisie, jaloesie of ontevredenheid voed.
Die kort en lank is dat die gesinslede fisies saam kan wees, maar geestelik en emosioneel van mekaar vervreem.
Reëls is in ‘n sekere sin goed, maar die belangrikste is ‘n huis waar Christus Jesus die middelpunt is.
Psalms 112 [4] Sajin. Vir die opregtes gaan Hy op as ‘n lig in die duisternis: Get. genadig en barmhartig en regverdig.
Ons Here Jesus Christus bevestig in:
Johannes 12 [46] Ek het as ‘n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.
Lig verdryf duisternis en waar waarheid, openheid en liefde heers, kry die vyand geen ruimte om te werk nie.
Efesiërs 5 [8] Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig.
Onthou ! Die vyand se doel is selde om ‘n gesin in een dag te vernietig.
Hy werk dikwels deur klein toegewings wat mettertyd groter word.
Kom ons kom in vir ‘n landing en eindig soos ons begin het met:
Efesiërs 4 [27] “… en gee aan die duiwel geen plek “topos” nie.”
Vrede Vir Jou.
![]()
