
Woordsaad Gedagte
Ons het alreeds by Paulus in Kolossense 3 [16] geleer:
”Laat die woord van Christus ryklik in julle woon …”
Gister het ons bygevoeg “ … in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar…”.
Vandag leer ons hoe ons, ons huise vul met die geur van aanbidding.
“…met psalms en lofsange en geestelike liedere…”
Paulus verwys hier na die geskrewe Woord en spesifiek die Psalms [Psalmos] se tekste wat uitgespreek of gesing word.
Lofsange of Lofprysinge is wanneer ons oor die grootheid van God en Sy karakter sing. Ons sing nou lofsange [Hummos] oor Hom.
Die geestelike liedere is dit wat spontaan deur die Heilige Gees in jou opgewek word en jy net sing sonder die fokus op ‘n spesifieke wysie,maar eerder op die woorde wat en waarmee jy jou huis se atmosfeer vul. [Ōdē Pneumatikos]
Wanneer ons nou al hierdie geestelik bestanddele van Paulus bymekaar voeg, het ons die geur van geestelike potpourri wat ons huise vul.
Nou is ons huise nie meer klaagmure wanneer swaar en uitdagende tye kom nie.
Dit is dan wanneer elkeen in die familie hul Psalms, lofsange en geestelike liedere se volumes opdraai en proklameer wie die Hoof is van die huis.
Dit is wanneer die vyand lees: “Jehovah Nissi”, die Here is ons banier.
Jy sien, die ou vyand het geen teenvoeter wanneer ‘n huis gevul is met die geur van Psalms, lofsange en geestelike liedere wat opstyg vanaf die altare van ons harte.
Kolossense 3 [16] ”Laat die woord van Christus ryklik in julle woon in alle wysheid. Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere…”
Vrede Vir Jou.
![]()
